Naboomspruit Eeufeesviering
Naboomspruit word 100 jaar oud!
Naboomspruit in die Bosveld aan die voet van die skilderagtige Waterberge is in 2010 een honderd jaar oud. Reeds
in November 1907 is die plaas Naboomspruit, van Richard Currie, in erwe opgedeel en op 8 Junie 1910 is Naboomspruit
as dorp geproklameer. Daar is voor die Tweede Vryheidsoorlog reeds verwys na Naboomspruit omdat die spoorweghalte
so geheet het.
Naboomspruit en die omgewing het ’n luisterryke geskiedenis wat strek vanaf die vestiging van pioniers asook
belangrike gebeure gedurende die Tweede Vryheidsoorlog tot die saga rondom die redding en beskerming van die
Bastergemsbok teen totale uitwissing en die vestiging van ’n voëlparadys by Nylsvley.
Naboomspruit is by uitstek bekend as ’n gesogte binnelandse vakansiebestemming,
veral omdat daar ’n aantal breuke in die aardkors voorkom waar warm minerale water gevind word. Net in die
omgewing van Naboomspruit is bykans 70 vakansieoorde, wildsplase, lodges en natuurreservate. Gehalte wissel
van internasionaal en super luuks tot standaard huisvesting vir die hele gesin.
Vermaak en ontspanning is volop. Daar is twee gholfbane van internasionale gehalte, voëlkyk, stap- en
hengelgeleenthede, bykans alle tipe ekstreme sportgebeure, verskeie geriewe vir 4X4, kwad- en “off road”
motorfietse, perdry en dan natuurlik jag en boogjag.
Besienswaardighede sluit ook in ’n krokodilteelplaas en ’n sweefspoor teen een van die berge op. Tans huisves
die Bosveldomgewing die grootste konsentrasie witrenosters in die hele Afrika.
Naboomspruit is ook bekend as opleidingsentrum en by verskeie fasiliteite in die omgewing kan jag-, veldgids-,
spoorsny- en toerismekursusse bygewoon word. Vir skoolkinders en studente is daar ook veldskole, avontuurskole en
leierskapkampe.
Dan het verskeie luisterryke figure ook hulle stempel op die Naboomspruit omgewing afgedruk. Eugène Marais as
digter, skrywer en natuurkenner het baie van sy geskrifte in die Waterberg die lig laat sien, waar hy ook die
broodboom wat na hom vernoem is, ontdek het. Hy het vir bykans 11 jaar permanent hier gebly. Verskeie plekke waar
hy by betrokke was, kan vandag nog besigtig word. Die laerskool op Naboomspruit is baie gepas na Eugène Marais
vernoem.
J H Pierneef, sekerlik Suid-Afrika se mees vooraanstaande skilder, het baie van sy bekende werke en veral
Bosveldtonele in die omgewing geskilder, waar hy tuisgegaan het by sy boesemvriend, die botanikus, Ernest
Galpin op Mosdene.
’n Ander bekende skilder, Erich Mayer, het ook in die omgewing geskilder, en op sy beurt was hy ’n groot vriend
van Eugène Marais en die pionier Gysbert van Rooyen. Erich Mayer se skets van die Alambraboom voor die huisie op
Rietfontein waar Marais by die Van Rooyens gebly het, en Ou Hendrik wat die bekende Dwaalstories daar aan Eugène
Marais oorgedra het, is vandag volksbesit.
Die Leeu van die Noorde, Advokaat J G (Hans ) Strijdom, wat Eerste Minister van Suid-Afrika was vanaf 1954
tot 1958 was vir baie jare die LV vir Waterberg en het ’n besondere invloed op Naboomspruit gehad. Die
hoërskool op Naboomspruit is dan ook tereg na hom vernoem.
As gevolg van groot reën en die afloop van water vanaf die berge, het watermassas by verskeie geleenthede in die
verlede deur die dorp gestroom sodat van die inwoners met kano’s en sinkbaddens in die strate gevaar het.
Ander interessante grepe uit die geskiedenis is rooftogte van die poskoetse en aanvalle deur leeus op mense in
die omgewing. Die geskiedenis van die Zeederberg Poskoetsdiens is ook baie interessant en met die geskiedenis van
Naboomspruit vervleg. Dan was daar ook die proefneming in 1926 om ’n trein met rubberwiele tussen Naboomspruit en
Zebediela te laat loop.
Naboomspruit het werklik ’n luisterryke geskiedenis – spesiale persone, unieke gebeurtenisse en komiese en
hartseer momente maak alles deel daarvan uit. Dan bly dit een van Suid-Afrika se mooiste dorpe in die hart van die
Bosveld en aan die voet van die Waterberge - dit is in werklikheid die poort tot die Waterberge.
Naboomspruit vier vir die hele 2010 sy Eeufees. Bykans elke onderneming, skool en instansie hou sy eie
fees, wat by die groot fees met hoogtepunt in Junie 2010, inskakel.
’n Gedenkboek oor die wel en weë van Naboomspruit oor die afgelope 100 jaar verskyn ook in 2010.
Vir verdere navrae skakel Herman van Niekerk by 082 300 5974 of e-pos info@adverta.co.za (besoek gerus ook www.adverta.co.za)
|